Op hierdie kortste dag hier in die suidelike halfrond, sit ek snoesig voor ons Aga en skryf. Dit was 'n koue nag, ryp lê 'n wit lagie oor die wêreld, en die water uit die sproeiers hang soos stalagtiete van heinings en plante. Dis ons winters hier in Molteno. 'n Sprokiesagtigheid saam met die gestoei om warm te bly. En dis 'n leerskool in die kleine om hierdie strawwe seisoen te vier... Ek geniet die intense seisoene hier. Die herfs asemrowend met die populiere wat goudgeel staan, en dan die winters... Waar alles gestroop word. Alle kleur verdwyn. Maar dan begin die oog fyner skakerings raaksien, van sagte kleure: groengrys, duifgrys, droë gras, ryp gars op die land. En dit word 'n stil fees vir die oog. Dis asof mens moet aanpas by 'n nuwe ritme. 'n Stadiger leef. Dieper kyk, want mens sal die landskap maklik kan afmaak as vaal en dood. En dan mis jy die klein wonders om jou. Die fyn detail van 'n wêreld wat sonder voorgee is, en baie het om te gee. Ek verf in 'n klein houthuisie in 'n populierbos. Dis 'n voorreg om elke dag daar omring te wees met bome wat die seisoene leef. Ek kan daagliks die verandering sien. Die droë silwer blare onder my voete hoor. Die ysigheid voel. En ek probeer die 'nou' indrink. Nie geirriteerd wag vir die lente en warmer weer nie. En dit word soos 'n oefening vir my lewe. Om te wag in die winter. Te bly in die ooglopende dooie seisoen. Selfs vreugde te vind. Help U my Here... (krediet vir foto's: Wilke, Thara en Anne Strydom. Gaan kyk gerus na hul webtuiste: wilkestrydom.wixsite.com/soetewaterfotografie) ("Wintervuur" 62x48cm Olie op doek)
0 Comments
|
Johanneke strydomLiving in God's grace daily. Archives
October 2017
Categories |