Sy was 92 jaar oud. Sy was Dirk se ouma en 'n seën vir almal om haar. En aan die einde van haar lewe het sy haar hande oor haar bors gevou en deurgegaan... Haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders het gestaan en snik by haar kis. Hartverskeurd omdat hulle hul ma, ouma en oumagrootjie so gaan mis. Daar is gepraat oor haar vriendelikheid en rustigheid. En ek wonder hoe sy teruggekyk het oor haar eie lewe... Ek lees gister vir Simon van koning Salomo, hy met die roemryke lewe. 'n Mens wat in menslike terme alles gehad het wat 'n mens kan begeer. Maar hy beskryf dit aan die einde van sy lewe as 'n gejaag na wind. Alles tevergeefs... Sinloos... En ek wonder oor tevredenheid. Wat sal maak dat 'n mens tevrede sal terugkyk oor jou lewe as jy aan die einde daarvan kom. En ek besef dat dit so sal wees as ek nou tevrede is. Terwyl ek voluit in die lewe staan. Ek dink dit begin met wat ons verwagting is, wat ons dink ons toekom... Maar, "ons het tog niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons sal ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees." 1Tim 6:7-8 Die engelse woord is "contentment" - "that contentment which comes from the sense of inner confidence based on the sufficiency of God"- Msg. Ek gaan na Paulus toe om te leer. Hy sê: "I have learned to be content and self-sufficient through Christ, satisfied to the point where I am not disturbed, regardless of my circumstances. In any and every circumstance I have learned the secret of facing life, whether having an abundance or being in need. I can do all things, which He has called me to do, through Him who infuses me with inner strength and confident peace." Phil 4:11-13 (Amp) Ons word nie 'n pynvrye, sorgvrye lewe belowe nie, maar iets veel beter... En ek besef dat tevredenheid binne myself lê, dat ek dit nie in iets buite myself sal vind nie. Maar dat hierdie tevredenheid slegs kan kom in Hom. As ek myself oorgee. My eie voorkeure laat gaan, my eie strewes. Om in gehoorsaamheid te leef in die Een wat lewe gee. "Drink deeply of the pleasures of this God. Experience for yourself the joyous mercies He gives to all who turn to hide themselves in Him" ps 34:8 Dan bring Hy ons in 'n wonderlike oop spasie. Dan versadig Hy my. Tot die dag wat ek my hande oor my bors kan vou en tevrede deurgaan... "contentment" 70x55cm oil on canvas "...You broke open the way to bring me to freedom, into a beautiful, broad place..." ps 31:8
1 Comment
Elke dagbreek gebeur dit... Die donker-duister word deur die lig verdryf. En wat donker diepte was, begin lewe. Met kleur en prag. Oranje, pienk en geel... "eerste lig" olie op bord 45x60cm Nou in die winter kan ek dit so intens beleef elke oggend. Dit is pikdonker as ek met my eerste koffie by die Aga gaan sit en stil wees. Ek trek die gordyne oop om die geboorte van die dag te kan sien. Die eerste skemering. Die ligvlekkies wat stadig ligter word tussen die ou moerbeiboom se kaal takkies deur. Dis asof die orkes se instrumente ingestem word. Eers enkele klanke wat huiwerig speel. Dan al voller tot die pienk wil uitbars die hele lug vol. Dis asof vlamme die hemel aanraak. En dan die klimaks as die kleure uitbars oor die rante met die eerste strale wat alles in goud verander. Maar net vir 'n paar oomblikke, dan word die lig wit en kan die gewone dagtake begin... En in hierdie tyd, in hierdie land, gee dit hoop. Hierdie lig wat elke môre die duisternis oorwin. Word dit 'n daaglikse prentjie, 'n getuienis wat ons kan vertrou. Want ons leef in onseker tye. Ons land se sake loop nie soos ons dit sal verkies nie. Geensins. Mens voel magteloos teen die onreg. Veral omdat dit die onskuldiges is wat ly. Dit voel so onregverdig. Maar lyk my Jeremia van ouds het ook hoop gekry by hierdie dagbreek-prentjie. Want hy skryf uit sy hopelose omstandighede, uit 'n vyandige land ver van sy huis af: "His tender compassions never fail. They are new every morning. Great and beyond measure is Your faithfulness. 'The Lord is my portion and my inheritance', says my soul; therefore I have hope in Him and wait expectantly for Him." Lamentations 3: 22-23 Ek kies om dit te glo. Al kan ek dit nie sien nie. Dit is immers wat geloof is. Om te vertrou in dit wat ek nie kan sien nie. Ek ontmoet die lig as 'n Persoon... "Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee." Johannes 8:12 En ek neem Jesus se woorde saam in hierdie dag in. In hierdie donker prentjie wat ek oor die nuus hoor.
Ek kies om oop te maak vir die Lig. Kies om nie in die donker te bly nie. "Jou oog is 'n lamp vir jou liggaam. 'n Suiwer oog laat die lig na binne stroom, sodat jy daar binne geheel en al lig word." Matteus 6: 22 So ek laat die Lig binnestroom om ook my donker binneste te verlig. Want Sy genade is elke dag nuut. Ek kan elke oomblik daarin lewe. Ek kan rus daarin. Want dit kom nie uit my nie. Dit omvorm my. Daagliks. Ek kan elke nuwe dag nuut begin... Dit is genade... |
Johanneke strydomLiving in God's grace daily. Archives
October 2017
Categories |