Ek kyk om my heen, en ek vra myself af: waar sal ons hulp vandaan kom... Hoe moet ons reageer op die gebeure in ons land? Ek kyk met ongemak na die soveelste video wat aangestuur word. Waarmee is ons besig? Het ons regtig ons land se beste belange op die hart? Om in groepe te verdeel en die vrees op te jaag? Ja, ons land is in 'n gemors. Ja, die onreg is skreiend. Ja, dit maak mens lam om die gierigheid en magsmisbruik te sien. En ja, dit ruk mens om die geweld te aanskou wat aan onskuldiges gedoen word. Maar ek vra my af hoe ons ons moet posisioneer hierin. Dit is nie die eerste maal in die geskiedenis waar daar vergrype is nie. Ook nie afgryslike, ondenkbare boosheid nie. Ek hoor soveel mense sê dat dit nie erger kan gaan as nou nie. Dan verwonder ek my as hulle wegry in hulle blink nuwe 4x4 bakkies en terugkeer na hul veilige en gerieflike lewens. Weet ons regtig wat swaarkry is? Verdrukking? Vervolging? En ek ys as ek dink hoe gemaklik ons is. Wat ons verwagtinge is van hierdie lewe. Dat ons so gou op hol kan gaan as dinge effe knap raak. Ons glo so maklik die beeld wat vir ons voorgehou word as die werklikheid. Gaan ondersoek ons dit ooit om by die waarheid te kom? Of spring ons goedsmoeds op die volgende wa van vrees wat verby kom... Het ons die volle beeld van wat in ons land aangaan? Of leef ons in 'n blanke, bevoorregde seepbel, waardeur ons na alles om ons kyk. Het ons begrip vir wat in ander gemeenskappe gebeur? Hoe ander geraak word? Of is ons so besig om wat ons s'n is te beskerm, dat ons harte hard is. Ons oë blind. Dis nie dat ek antwoorde het vir ons land, of vir ons wêreld nie. Maar wat ek glo ons plig is as die Lig en Sout in hierdie wêreld, is dat ons ons harte sal ondersoek. Dat ons sal seker maak dat ons die regte duisternis beveg. Dat ons in die regte Koninkryk is. Want dit is 'n koninkryk wat anders werk as hierdie wêreld se baie koninkryke. Ek het by Jesus se voete gaan sit en saam met die skare geluister na waar hy Sy Koninkryk verduidelik:
Geseënd is hulle wat arm is van gees, wat leeg is van hulleself en hulle eie belange, hul regte. Sodat Hy groot kan wees. Geseënd is hulle wat treur, wat nie antwoorde het vir harte wat gebreek word en wêrelde wat verskeur word nie, maar wat self gebreek word daardeur. Geseënd is die wat sag van hart is, wat met sagte oë kyk, na hulleself en na die om hulle. Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is, wat regtig na die Waarheid soek. Geseënd is die genadiges, wat nie veroordeel of beoordeel nie, maar liefhet, wat met deernis uitreik na mense in nood. Vergifnis is die taal wat hulle praat, want hulle bly bewus van wat hulle elke dag vergewe word. Geseënd is hulle wat suiwer van hart is, wie se innerlike en uiterlike lewe ooreenstem, wie in integriteit lewe elke oomblik van hierdie moeilike menslike reis. Daar is geen voorgee nie, slegs een ding oorheers: om in God te bly. Geseënd is die vredemakers, die wat nie verder verdeel nie, maar bymekaar bring. Wat 'Shalom', heelheid bring waar hulle gaan. Wat bou in plaas van breek. Geseënd is hulle wat vervolg word ter wille van wat voor God reg is. Ook wanneer hulle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor hulle versprei word omdat hulle My dissipels is. Hulle wat nie terugdeins om op te staan vir wat reg is nie. Wat vol is van 'n groter Lewe. "when everything you stand for and everything you believe in become a song in you, then dying's not so hard at all." -Macrina Wiederkehr Mag ons in die wye oopte van die Koninkryk lewe, sodat ons ware vryheid mag ken, en kan onderskei in 'n tyd soos hierdie. En as ons bid, laat dit nie om ons eie klein skemas draai nie, maar mag ons vrymoedig instap in God se Koninkryk in ons, om aan te raak en in te sluit en te omhels...
3 Comments
|
Johanneke strydomLiving in God's grace daily. Archives
October 2017
Categories |