Ons is gedwing om te bly... Daar was 'n wonderlike vakansie in vooruitsig. Drie weke in Sedgefield. My ouers sou die hele Junie-maand oorsee wees, en het ons gevra om hulle huis en hond op te pas. Ons het drome gedroom van dik boeke lees, luilekker tyd op die strand spandeer, visvang, stap in die Knysnabos, Kangogrotte besoek... En bowenal van geen verantwoordelikhede nie. In die drie jaar vandat ons die plaas gekry het, was ons nog nie op 'n gesinsvakansie nie. So ons het gedink dis hoogtyd. Dat dit ons selfs toekom. En die tydsberekening was goed: 'n rustiger tyd op die plaas, nie te veel wat moet gebeur nie. 'n Welverdiende ruskans... Maar toe breek die geweldige vure in Knysna en omgewing uit. Ons volg die berigte van verwoesting. Na 'n week word Sedgefield as veilig verklaar en ons besluit om tog te gaan. En toe breek ons kar 3 dae voor ons sou vertrek. Groot breek. Die enjin moet oorgedoen word. Ons moet bly. En ons bly, in hierdie spasie waar die werk nooit minder raak nie. In die koue en droogte. In ons daaglikse roetine. Sonder 'n kar. Sonder opwinding of afleiding. Ons kan toe niks anders doen as om aan te gaan nie. Met die gewone. Ons oes 'n mielieland, oes rape, herbou die hoenderhok, stook die Aga. Ons leef 'n winter-ritme van korter dae. En ons word verras met 'n groot rustigheid oor ons. 'n Vrede om nou hier te wees. Om nou hierdie rape uit te trek, hier in die winterson. Nou hierdie mielies te pluk. Ek kom na 3 weke van nie-op-vakansie-wees-nie, af op die volgende aanhaling van Kathleen Norris: "We want life to have meaning, and want to be fulfilled, and it is hard to accept that we find these things by starting where we are, not where we would like to be. Our greatest spiritual blessings are likely to reveal themselves not in exotic settings, but in everyday tasks and trials." Dennis Okholm sê dit ook mooi: "Conversion and growth in character happen when we remain, not when we run... Stability means being faithful where we are - really paying attention to those with whom we live and to what is happening in our common life." Ek bely ek wou hardloop. Ek het gesoek na treine en busse wat Sedgefield toe loop, enige manier hoe ons by ons vakansiebestemming kan uitkom. Maar dis toe ek pens en pootjies in 'Jan-tuisbly-se-karretjie' inklim, en in my hart 'bly', dat ek die rus kon ervaar. Te midde van harde werk. Te midde van die gewone. En soos altyd het ek dit na my huisie in die bos geneem, om in beeld om te sit. En ek het die groot wye populier voor my huisie begin verf. Die alledaagse uitsig. Ek het hom geverf soos hy daar staan: gestroop van somergroen, ontbloot om al sy merke te wys. En hy het al mooier vir my geword, toweragtig mooi. Daar waar hy so stewig geanker staan... ( "gestroop" 70x55cm olie op doek)
4 Comments
Cilna
7/8/2017 05:02:49 pm
Pragtig!!
Reply
Matty
7/9/2017 10:51:15 am
Die Zen van "hier " wees. Om die volheid van die oomblik te ervaar.
Reply
Elsabe Strydom
7/9/2017 01:44:13 pm
Een van jou mooiste skilderye vir my!
Reply
Shannon Meyer
7/9/2017 04:47:56 pm
Now THIS painting is my new favourite! Beautiful my friend. May God keep on giving you peace and joy in all circumstances. Bloom where you are planted :)
Reply
Leave a Reply. |
Johanneke strydomLiving in God's grace daily. Archives
October 2017
Categories |